Inperking: Private markte ondersteun gemeenskappe

Datum van Publikasie: Woensdag 8 Julie 2020

Skrywer: Johan van der Merwe

Landbou.com

 

Kleiner, private markte kon tydens die Covid-19-inperking flink en doeltreffend sorg dat behoeftige
mense voedsel ontvang.

Slegs vier dae nadat Freshlinq die private Midrand-varsproduktemark se deure op 26
Junie oopgemaak het, het die mark reeds die plaaslike gemeenskap ondersteun, veral danksy die ideale ligging van die mark.

Freshlinq het infrastruktuur opgerig en beskikbaar gemaak om voedsel aan die nieregeringsorganisasie Kamcare te skenk. Dit volg nadat Yara Africa op 28 Mei R1 miljoen aan Agri SA se surplusvoedsel-veldtog geskenk het om voedsel aan behoeftige mense te voorsien. Agri SA het met die RSA Groep, die Mike Loutfie-stigting en Freshlinq bande gesmee om te verseker dat die geld doeltreffend aangewend word.

Mnr. Theo Botha, uitvoerende hoof van Freshlinq, sê die RSA Groep het die geld gebruik om vars produkte op varsproduktemarkte reg oor Suid-Afrika aan te koop, terwyl die Mike Loutfie-stigting die koördinering en verspreiding gedoen het vanaf die infrastruktuur wat deur Freshlinq beskikbaar gemaak is.

Die doeltreffendheid waarmee Freshlinq by hierdie veldtog kon waarde toevoeg om die flinke verspreiding van vars produkte in plaaslike gemeenskappe te verseker, is te danke aan sy varsproduktemark-infrastruktuur in kleiner gemeenskappe. Dit lig die noodsaaklikheid van doeltreffende infrastruktuur in kleiner gemeenskappe uit, sê Botha.

Ontgin geleenthede op soolvlak

“Gauteng het die grootste ekonomie van die nege provinsies in Suid-Afrika. Daar is dus groot potensiaal en geleenthede, maar dit gaan nie op ’n enkele, enorme perseel ontgin kan word nie. Dit sal eerder deur betrokkenheid op voetsoolvlak in kleiner gemeenskappe geskied. Freshlinq Midrand is uitstekend geleë om ’n aantal groeiende gemeenskappe in alle rigtings te bedien. Freshlinq Midrand sluit dus goed aan by Freshlinq Vaal in die suide van Gauteng wat die gemeenskappe daar bedien.”

Vir Botha is dit ’n prioriteit om ’n opbouende rol te speel in die gemeenskappe waar Freshlinq betrokke is. “Omdat ons op grondvlak met plaaslike gemeenskappe werk, kan ons sien hoe swaar die wêreldwye korona-krisis plaaslike ekonomieë en die gemeenskappe daar rondom tref. Dit is dus vir ons ’n prioriteit om ondersteuning te bied waar ons kan en ’n verskil te maak in die lewe van die mense in die gemeenskappe waar
ons betrokke is. Agri SA, die Mike Loutfie-stigting en die RSA Groep is uiters bekwame organisasies en vergemaklik ons pogings om betrokke te raak.”

Freshlinq Vaal in Vanderbijlpark en Freshlinq Polokwane in Limpopo het ook hul infrastruktuur aan Agri SA beskikbaar gemaak om te verseker dat voedselskenkings behoeftiges in daardie gemeenskappe kan bereik. Freshlinq is reeds in gesprek met die Mike Loutfie-stigting om volgehoue samewerking te bewerkstellig.